Willem Fransman Jr

Willem Fransman Jr

Prettige Poësie met ‘n Ploffende Ploert!

In hierdie hupspot-aanbieding van gedigte vat Fransman die luisteraar op ‘n mallemeule-rit deur die Afrikaanse poësie en veral die wel en wee van diegene op de Kaapse Vlaktes.Veral sy omdigting van klassieke gedigte in Kaaps sal ook aandag geniet. Van “Die storie van Koeraad Fiet” (‘n verhalende gedigte van C Louis Leipoldt) tot “Moetie raai Gammattaal gebrykie” (‘n kortvers van Peter Snyders). Maar Fransman sal ook van sy eie-eg Kaap-Afrikaanseverse voordra. Gou sal die gehoor agterkom dat Poësie tog Prettig kan wees…selfs al word deit deur ‘n ploert soos Fransman voorgedra. 

Willem Fransman Jr is bekend as ‘n woordkunstenaar by uitsondering. In hierdie aanbieding fokus hy op die invloede wat digters soos Adam Small, Peter Snyders, Marius Titus en ander Kaaps-Afrikaanse digters op hom as kreatiewe siel gehad het. Maar, gebêk in die poësie, kon hy ook nie die invloede van Afrikaners-digters C Louis Leipoldt, WEG Louw, NP van Wyk Louw Toon van den Heever en CM van den Heever in sy lewe wegredeneer nie. 

Willem Fransman Jr ‘n Kort Profiel

Willem Fransman Jr is tans verbonde aan die Tandheelkunde fakultiet van die Universiteit van die Wes-Kaapland. Hy was vir meer as twintigjaar lid van die Navorsingsinstituut vir Mond en Tandeheelkunde (Universiteit van Stellenbosch) as laboratoriumdiertegnoloog. Gedurende daardie tydperk word hy met verskeie Dekaanstoekennings asook ’n Rekorstoekenning as lid van dié navorsingsspan ver-eer. 

Maar dit was ook in dié tydperk dat sy kreatiewe skrywersloopbaan gedy. Hy word in 1995 gekies om vir drie dae, ’n slypskool na afloop van die Tweede Swartskrywerssimpisium te Paternoster by te woon. Daana word hy op die loodskomitee verkies, om ’n inklusiewe Afrikaanse skrywersvereniging te stig. Heel gepas word hy op die eerste bestuur van die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) gekies. Fransman word later jare voorsitter en is tans die langsdienende voorsitter van die ASV. 

In 1997 word hy die eerste wenner van die RSG en Sanlam radiodrama skryfkompetisie. Verskeie opdragwerke, vir radio en kunstefeeste, landswyd sou later volg. Hy tree by verskeie kunstefeeste as storieverteller en voordragkunstenaar op. In 2003 vereer die Wes-Kaapse regering hom met ’n Premierstoekenning. ’n Toekenning vir die bevordering van letterkunde aan die agtergeblewe gemeenskappe word in 2010 aan hom deur die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport toegeken. Vandag is hy vir ’n tweede termyn lid van die Wes-Kaapse Taalkomitee. Behalwe ’n kreatewe woelgees, is Fransman ook ’n Westelike Provinsiale pad-atleet.