Daniel Hugo

Daniel Hugo en die kwatryn

Die kwatrynvorm het besonder gewild geraak in die Westerse wêreld ná die verskyning in 1859 van Edward FitzGerald se vertalings van die Persiese digter Omar Khajjam se Die roebaijat. In die Afrikaanse digkuns het D.J. Opperman honderd jaar later dié Persiese kwatrynvorm beoefen en ook ’n invloedryke opstel daaroor geskryf. Talle Afrikaanse digters het sedertdien probeer om Opperman se meesterskap van hierdie soort viereëlige vers te oortref. Daniel Hugo is een van hulle. 

Daniel Hugo is op 26 Februarie 1955 op Stellenbosch gebore. Hy gaan skool op Greyton (Weskaap) en in Windhoek (Namibië), en studeer aan die Universiteite van Stellenbosch (B.A. Hons.), Pretoria (M.A.) en die Vrystaat (D.Litt.). Op Stellenbosch was hy ’n lid van die digter D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium. In 1983 het hy gestudeer aan die Katholieke Universiteit van Leuven in België. 

Hy is die digter van 15 bundels – die jongste is Takelwerk wat in 2015 verskyn het. Hy het ook etlike bloemlesings uit die Afrikaanse poësie en verhaalkuns saamgestel. Hy is verder bekend as vertaler uit Nederlands en Engels. 

Daniel Hugo was aanvanklik ’n lektor in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat. Daarna was hy byna 20 jaar lank in Kaapstad ’n omroeper by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK waar hy verantwoordelik was vir die literêre programme. Hy is meermale vir sy omroepwerk bekroon. Vanaf April 2010 tot Mei 2014 was hy ’n vertaler en uitgewersredakteur by Protea Boekhuis. In 2014 ontvang hy die Suid-Afrikanse Akademie se vertaalprys vir sy vertaling van Tom Lanoye se roman Sprakeloos. Deesdae is hy ’n vryskut-taalpraktisyn. 

Daniel Hugo is getroud met Marlene Malan, ’n bekende en bekroonde joernalis.