Thursday, 19 January 2017

McGregor Poetry 2016: Die lewende woord in die Damfiteater



Saterdag

Alles was wel
            alles was woes
                        alles was wilder as die wildtuin
                                    alles was warm.
                                                vrekwarm.

Die damfiteater
            die malle maling van mense
                        die son die son die son
                                    intens wakker onder die bloedrooi son
                                                in die rooi kleigat.



Umhlaba. In die skoot van die aarde
spring die seuns van die Mothertongue Project
en open die dag met twee Afrika tromme.

Toe kom Gaireyah Fredericks met Slamse verse uit die hart vannie Kaap
die Kaap wat Hollands is
waar sy ons vra om vrede in os vyste te vind
en haar ma se naaldwerkboksie te ruik
Die wildste van almal was op die hittigste van die dag
Kaalvoet op die perskepitte stroop sy haar klere af
haar lyf beskryf met haar skryfsels wat sy grawe uit die klei
Lara Kirsten drink ink
sy word sienderoë kleiner soos sy wegsmelt in die hitte
ek sien haar deur ‘n waas
my wange en knieë aan die brand.




Sondag



Net een item in die dam. Diana Ferris
Mengelmoes kardoes moes toe koelte toe. Die Dam was te warm. Vroeg al net na tien reeds veels te warm. Diana die Diva was al vroeg benoud. “Kan ons nie maar dabo inni koelte sit nie?”
Suenel en ek kyk na mekaar. Stoele? Sitplek?
Ja. kom ons doenit. Almal help banke en stoele opdra. Kussings en komberse. Ons vorm ‘n lang sirkel en settel. Lieflik koel oppi klam grond tussen peule en grassies. 

Gaireyah sommer kaalvoet Kaaps want haar skoene en outfit pas nie by haar verse nie. Sy het diep in my hart gekruip met haar eerlikheid. 
Mengelmoes het hystoe gekom onner die boom. Daar was selfs iewers ‘n vers oor boem in al sy vorms! 


Elke digter het hulle tyd gevat. En toe kom die cherry on top. Diana. Ontroerend met verse oor haar pa wat krygsgevangene was in Poland/ Duitsland in die 2de Wereldoorlog. Haar verse oor hom en sy latere stryd met drank en siekte het my so herinner dat ek nog oor my Pa moet skryf. Terwyl sy lees rol my trane ongehinderd. Teen die tyd sit ek op ‘n draadstoel nadat Mr Mengelmoes my opgehelp het van die nat gras, amper te styf om orent te kom. So toe rol die trane net. Ek sien Suenel sit ook en snik onder haar donkerblou hoedrand.. ‘n Katarsis. Ons luister. Vasgevang in die web van swaarkry en lag. Die krag van klank. Eerlike goed. Seer goed. Die oom van Robertson sit later met sy gesig in sy hande. Eina goed. Opstaan en aangaan goed, want so se Gaireyah, die toekoms, os toekoms is bright.


Later wil niemand loop nie. Bamboesina, ‘n kind-vrou met Frida Kalo oë raak begeesterd aan die praat oor ons wortels wat almal verstrengeld is. Hier rond, hou sy aan. Op hierdie plek. Wie is ek en ek is jy en jy is ek soort van goed. Diana en die digters knik haar toe. Ja kind, jy’s reg. Hou aan grawe en soek. jy’s op die regte spoor. Na twaalf, dubbeld die amptelike tyd, loop die laaste mense drentelend weg. Almal traag om te gaan. Boeke word geteken, adresse geruil. Sal ons mekaar weer sien? Waarskynlik nie. Maar die wortels sal bly groei.



Hester van der Walt